TO THE POINT | WHAT WE DO | WHO WE ARE | PRESS CLIPPINGS | DEALS DONE | CONTACT US

 


< back

BERNARD SWANEPOEL, HARMONY-VETERANE BEGIN MYNGROEP
12 July 2008 | SAKE24 | Author Dewald van Rensburg | SA
Mnr. Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony, is in die proses om ’n nuwe, moontlik gediversifiseerde mynmaatskappy op die been te bring.


Dié mynbou-veteraan het die wêreld se vyfde grootste goudmaatskappy geskep uit ’n versameling marginale myne voordat hy verlede jaar onverwags tydens ’n boekhou-skandaal bedank het.

Nou blyk dit dat hy, tesame met ’n groep ander Harmony-veterane, weer van voor af begin.

Daar is Vrydag op die JSE se nuusdiens aangekondig dat Swanepoel se nuwe konsultantemaatskappy, To The Point Growth Specialists, ’n aanbod gaan doen vir alle aandele van Village Main Reef Gold Mining Company, ’n dormante goudmaatskappy met geen bates buiten ’n 74-jarige notering op die JSE nie.

Nadat die transaksie afgehandel is, sal planne vir Village Main se herlewing aangekondig word, sê me. Lizelle du Toit, ’n Harmony-woordvoerder wat vroeër vanjaar ook by To The Point aangesluit het.

Die Village Main-notering sal gebruik word as beginplek vir ’n nuwe myngroep deur middel van verkrygings, het sy Vrydag bevestig.

Dié verkrygingsveldtog sal breër as goud mik en Village Main sal mettertyd herleef as ’n gediversifiseerde mynbou-belegging vir kleiner beleggers, sê sy.

Die aanbod vir alle aandele is ’n regulatoriese vereiste wanneer ’n belang van meer as 35% in ’n genoteerde maatskappy bekom word.

To The Point mik egter wel om minstens 50% van Village Main in besit te neem, sê du Toit.

Swanepoel se maatskappy het reeds die afgelope maand ’n 47,8%-belang bekom waarvan altesame 37,8% toevallig by Harmony gekoop is vir sowat R1 miljoen.

Harmony het in 2006 onder Swanepoel se leierskap ook dié notering probeer oorneem deur dieselfde belang te bekom.

Op daardie tydstip was Harmony nog van plan om sy mededinger Gold Fields oor te neem en moontlik die vergrote maatskappy se marginale myne afsonderlik in die Village-notering te groepeer.

Dié oorname het misluk en Harmony het sedertdien geen nut vir die ongebruikte notering gevind nie.

Die sowat 46c per aandeel wat To The Point vir Harmony se Village Main-belang sal betaal, verteenwoordig ’n groot korting op die prys wat vroeër vir ’n afsonderlike 10%-belang betaal is, asook die beplande aanbod aan alle aandeelhouers.

Die 10% is teen R1 per aandeel by ’n private aandeelhouer gekoop vir altesame R606 809,00, is Vrydag gesê.

Die aanbod aan die oorblywende aandeelhouers sal na verwagting ook R1 per aandeel wees – altesame net meer as R3 miljoen.

Dié aandeel, wat Donderdagaand nog op 35c gesluit het, se prys het Vrydag teen sluitingstyd met 243,75% gestyg tot R1,10.

To The Point bestaan meestal uit oud-bestuurslede van Harmony, onder meer mnr. Clinton Halsey, voorheen die goudmaatskappy se finansiële bestuurder wat saam met Swanepoel ’n medestigter is.

As ’n konsultantemaatskappy het dit reeds die omstrede Camec asook Mintails as kliënte gewerf.



 
 
  Copyright© To The Point 2008