Die voormalige
uitvoerende hoof van Harmony, mnr. Bernard Swanepoel,
het die eerste stap gedoen met ’n plan wat aan beleggers
vroeë toegang sal gee tot hulpbronprojekte.
To The Point Investments, wat Swanepoel saam met mnr.
Clinton Halsey op die been gebring het nadat Swanepoel
Harmony verlaat het, het ’n belang van 47,8% verkry in
Village Main Reef Gold Mining Company.
Ingevolge die reëls van die
Sekuriteite-reguleringspaneel moet hulle nou ’n aanbod
aan die minderheidsaandeelhouers doen.
Swanepoel sê beleggers kry nie gewoonlik regstreeks
toegang tot nuwe projekte, en die groeipotensiaal
daarvan, deur beleggings in gevestigde maatskappye nie.
“Hoewel my eerste liefde goud bly, is die gedagte om
Village Main om te skep in iets meer as ’n
goudbeleggingsmaatskappy. Ek beskou dit eerder as ’n
middel waardeur beleggers wat in ’n vroeë stadium by
projekte betrokke wil raak, dit sal kan doen.
“Terselfdertyd sal ons houers van mineraalregte help
deur aan hulle kapitaal en kundigheid beskikbaar te stel,”
sê hy.
Hy sê die uiteindelike koers wat die maatskappy inslaan,
sal in oorleg met sy aandeelhouers bepaal word.
“Ons sal nou moet toets hoeveel belangstelling daar
onder beleggers is om geld beskikbaar te stel om te belê
in projekte wat nog in ’n aanvangstadium is.”
Die maatskappy kan ook sy net wyer span as die grense
van Suid-Afrika.
“Ek het die laaste ruk heelwat tyd in die res van Afrika
deurgebring en het belange opgebou in platinum en
steenkool,” sê hy.
Hy ontken nie dat dié belange moontlik deel kan word van
die toekomstige Village Main nie.
To The Point Investments speel ’n entrepreneursrol deur
houers van mineraalregte van raad te dien oor die
geskikste geleenthede vir die benutting van hul regte.
“Ons is hoofsaaklik as raadgewer en mede-belegger
betrokke by die hulpbron- en hulpbron-verwante sektore.
Ek dien byvoorbeeld in die direksie van Mintails, wat
betrokke is by die herverwerking van slikdamme in
Suid-Afrika, en is ook ’n direksielid van Camec, wat
belange het in die Demokratiese Republiek van die Kongo,”
sê hy.
Village Main is ’n kontantdop en moet ingevolge die
reëls van die JSE binne ses maande bates bekom om die
opskorting van sy notering te vermy.
|